deur Stephan Joubert

Tyd kom en tyd gaan. Tyd loop. Dit loop deur die uurglas teen die spoed van sekondes, minute, ure, dae, maande en jare. Dis nou weer sulke deurloop-tyd. 2016 is flou geleef. Die jaar is agter ons. Uit alle oorde is ons in hierdie dae bewus van die tydelikheid van tyd. En van die vloeibaarheid hiervan. Miskien is dit dalk net nodig om weer daaraan herinner te word dat tyd ook God S’n is. Ja, mense, diere – alles is Syne Maar tyd ook. God rig tyd. Hy is aanwesig in tyd. Hy is ook hier wanneer ons eie stukkie leeftyd tussen 2016 en 2017 wissel. Watter genade om te weet dat ons God wat groter is as tyd en wat bokant tyd uittroon Hom ook aan ons hier in ons stukkie tyd verbind. God, die Almagtige wat bo die tyd is, is ook God die Almagtige hier in ons tyd. Tydloos en op tyd in ons eie stukkie tyd – so is God aanwesig. En so sal Hy ook in 2017 aanwesig wees, wanneer ons binnekort oor hierdie tydlyn leef. Hy is wie Hy is, al wissel dag en nag en jaar en jaar. God is eindeloos lief vir ons en Hy sal altyd betyds wees met sy teenwoordigheid.