Die Hoof Se Boodskap

Mnr. Nel se boodskap

Die 2020/2021-Jaarblad is ʼn baie spesiale uitgawe vir wat in die anale van tyd as die “Pandemietydperk” onthou sal word. 

 

Ten spyte van hierdie tydperk is Hoërskool Overkruin steeds in die oortreffende trap geseën en het ons die tyd en elke geleentheid met oorgawe aangegryp en na die beste van ons vermoë daarvan gebruik gemaak. Elke bladsy in hierdie jaarblad getuig glimlaggend van die potensiaal, die durf én daad waarmee die Ovies uitdagings aanpak. 

Abba eindig hulle liedjie, I still have faith in you, met die woorde:

“We stand on a summit,

humble and grateful

to have survived.”

Ons as Hoërskool Overkruin, staan nederig op die kruin van die Magaliesberg en kyk met dankbaarheid terug na twee jaar van beskerming, seën en guns wat ons sonder ophou ontvang het. Ons het oorleef en daarom léwe ons met dankbaarheid! Ons wil graag ons innige meegevoel betuig aan elke ouerhuis wat in hierdie tydperk ʼn geliefde aan die dood afgestaan het, hetsy ʼn gesinslid, familielid of ʼn kosbare vriend. Ons is saam met u hartseer en ons bid vir nuwe krag, inspirasie en berusting vir elkeen wat deur die smeltkroes van beproewing en verlies gegaan het.

Ovieland bestaan uit ʼn geoliede vennootskap tussen ouers, leerders en onderwysers. Sonder een van hierdie komponente kan daar nie ʼn Hoёrskool Overkruin wees nie. Ons bring hulde aan ons Ovie-ouers wat hulle kinders ondersteun, aanmoedig en dissiplineer. Ons salueer ʼn beheerliggaam onder leiding van mnr. PW Hattingh, wat ons ondersteun, inspireer en in ons glo. Ons is opgewonde oor elke Ovie wat geleenthede aangryp, groei en hulle drome vlerke gee – julle is ons trots! Julle gee aan die onderwys betekenis.

Matrieks 2021 – ROYAL CENTURY BRIGADE – jy is op een van dié mees avontuurlike plekke in jou lewe. Arina de Witt beskryf hiérdie plek as ʼn skatkis vol drome, en sing die volgende:

Vir jou is die lewe ʼn skatkis vol drome

Vir jou is die lewe vol sonskyngeluk

Vir jou is die lewe vol mooiste beloftes

ʼn Skatkis vol drome wat net op jou wag.

Julle staan op die drumpel van jul skatkis vol drome. Julle is jonk, gesond, kreatief en energiek – vol van sonskyngeluk. Bowenal koester elkeen van julle groot ideale vir ʼn blink toekoms. Die vermoë om van jou wildste drome ʼn werklikheid te maak, is in jóú hande. Jy is propvol mooiste beloftes! Maak die regte keuses, neem weldeurdagte besluite. Jy bepaal die kwaliteit van die res van jou lewe – jóú skatkis vol drome. Werk hard – onthou pastoor Jean Symons se boodskap. Jy is net een tree van die nuwe reënboog vol kleure wat God vir jou wil verf. Ons dien ʼn merkwaardige God. Paulus sê: “Maak jou los van dit wat agter jou is en strek jou uit na wat voor is. Span jou in om die wenstreep te bereik en die hemelse prys uit God se Hand te verower.” 

 

Ons bring hulde aan puik hoofleiers, Zander Collins en Mia-Leigh Loubser (2020) en De Wet Spies en Martiné Degenaar (2021) vir die besondere bekwame leiding tydens hierdie uitdagende tye. Julle het die toets met vlieënde vaandels geslaag. Dankie vir julle deursettingsvermoë, ywer, entoesiasme en kreatiwiteit – julle is voorwaar supersterre – julle vlieg hóóg!

Dankie aan ons uitnemende onderwysers. U handel en wandel laat my aan die volgende woorde van Benjamin Franklin dink: “An investment in knowledge always pays the best interest”. U onbaatsugtige diens skilder ʼn meesterstuk – ʼn reënboog vol kleure wat ʼn lied en ʼn glimlag op menige geplooide gesigte gaan verf. Die feit dat Hoërskool Overkruin as ʼn top- akademiese instansie gereken word, is aan u te danke. Baie dankie vir u belegging om hierdie skatkis vol drome, met arendsvlerke te laat vlieg.

ʼn Spesiale dankie aan mnr. Franco de Bruin, terreinbestuurder par excellence. U tesame met ʼn voortreflike span, verseker dat ons terrein en fasiliteite pragtig lyk.

Mev. Amanda Labuschagne het met haar kenmerkende akkuraatheid hierdie jaarblad meesterlik saamgestel sodat hierdie kunswerk die boodskap van sonskyngeluk aan toekomstige Ovies kan gaan verkondig: Ovie-wees is lekker! Ovies vlieg hoog! Ovies is ʼn familie!

Hoewel dit om ons woel en bruis, staan een konstante waarheid helder en duidelik uit: God ís en bly volkome in beheer, Hy is getrou en sal nóóit die werke van Sy hande laat vaar nie. Met hierdie stukkie wysheid gaan Hoërskool Overkruin doelgerig in geloof en met vertroue aan groter ideale bou, sy offers bring en as jeug die pad oopsper met eenheidsideaal, KYK VER!

 

Geseënde Kersfees en ʼn voorspoedige, sonskyn-gevulde 2022!

“We have learned to cope
and love and hope is why we are here now.”

 

 

May the WILL of God take you where

the GRACE of GOD will keep you where

the ARMS of GOD will support you where

the WISDOM of GOD will teach you.

And may the POWER of GOD

protect your today and all your tomorrows.

Die Hoof se Boodskap

Vir jou is die lewe ʼn skatkis vol drome

Vir jou is die lewe vol sonskyngeluk

Vir jou is die lewe vol mooiste beloftes

ʼn Skatkis vol drome wat net op jou wag.

Hoërskool Overkruin is ‘n skool wat beslis in die oortreffende trap geseënd is en daarom maak ons seker om elke geleentheid met oorgawe aan te gryp en na die beste van ons vermoë daarvan gebruik te maak. Elke foto in hierdie webblad getuig

glimlaggend van die potensiaal, die durf én daad waarmee die Ovies uitdagings aanpak.

Ons as Hoërskool Overkruin, staan nederig op die kruin van die Magaliesberg en kyk met dankbaarheid terug na jare van beskerming, seën en guns wat ons sonder ophou ontvang het. Ons leef dus elke dag met dankbaarheid in ons hart met die wete dat ons deel van so ‘n skool sisteem kan wees.

Ovieland bestaan uit ʼn geoliede vennootskap tussen ouers, leerders en onderwysers. Sonder een van hierdie komponente kan daar nie ʼn Hoërskool Overkruin wees nie. Ons bring hulde aan ons Ovie-ouers wat hulle kinders ondersteun, aanmoedig en dissiplineer. Ons salueer ʼn beheerliggaam onder leiding van mnr. PW Hattingh, wat ons ondersteun, inspireer en in ons glo. Ons is opgewonde oor elke Ovie wat geleenthede aangryp, groei en hulle drome vlerke gee – julle is ons trots! Julle gee aan die onderwys betekenis.

Aan ons leerders; julle staan op die drumpel van jul skatkis vol drome. Julle is jonk, gesond, kreatief en energiek – vol van sonskyngeluk. Bowenal koester elkeen van julle groot ideale vir ʼn blink toekoms. Die vermoë om van jou wildste drome ʼn werklikheid te maak, is in jóú hande. Jy is propvol mooiste beloftes! Maak die regte keuses, neem weldeurdagte besluite. Jy bepaal die kwaliteit van die res van jou lewe – jóú skatkis vol drome. Werk hard – onthou pastoor Jean Symons se boodskap. Jy is net een tree van die nuwe reënboog vol kleure wat God vir jou wil verf. Ons dien ʼn merkwaardige God. Paulus sê: “Maak jou los van dit wat agter jou is en strek jou uit na wat voor is. Span jou in om die wenstreep te bereik en die hemelse prys uit God se Hand te verower.”

Dankie aan ons uitnemende onderwysers. U handel en wandel laat my aan die volgende woorde van Benjamin Franklin dink: “An investment in knowledge always pays the best interest”. U onbaatsugtige diens skilder ʼn meesterstuk – ʼn reënboog vol kleure wat ʼn lied en ʼn glimlag op menige geplooide gesigte gaan verf. Die feit dat Hoërskool Overkruin as ʼn top- akademiese instansie gereken word, is aan u te danke. Baie dankie vir u belegging om hierdie skatkis vol drome, met arendsvlerke te laat vlieg.

Hoewel dit om ons woel en bruis, staan een konstante waarheid helder en duidelik uit: God ís en bly volkome in beheer, Hy is getrou en sal nóóit die werke van Sy hande laat vaar nie. Met hierdie stukkie wysheid gaan Hoërskool Overkruin doelgerig in geloof en met vertroue aan groter ideale bou, sy offers bring en as jeug die pad oopsper met eenheidsideaal, KYK VER!

God seën.

"Education Is The Most Powerful Weapon You Can Use To Change The World. "

- Nelson Mandela

© Kopiereg 2022 | Hoërskool Overkruin | Geskep en bestuur deur by Penta Motorgroep